Joostenberg
Oorsig:
Joostenberg Primêr is geleë ongeveer 12km oos van Kraaifontein langs die N1 op die plaas Klein Joostenberg. Sedert die skool se opening meer as 50 jaar gelede, het die leerdertal gestyg tot meer as 396. Die skool word bedien deur 10 leerkragte, een sekretaresse en twee skoonmakers. Die skool verskaf opvoeding aan leerders vanaf Graad R tot Graad 7. Baie ouers besef deesdae die waarde van Pre-Primêre opvoeding aan hul kinders, daarom is daar elke jaar ‘n toestroming van leerders na hierdie klas.
Die skool het ‘n aktiewe voedingskema. Leerders ontvang daagliks ‘n gekookte bord kos en toebroodjies. Die leerders word ook per bus na en van die skool vervoer. Dit skakel probleme met laatkom en veiligheid van leerders op lang afgelee paaie uit.
Op sportgebied word die volgende sportsoorte aangebied nl. Rugby, Krieket, Netbal, Atletiek en Landlope. ‘n Groep leerders het ook begin met aanleer van skaak. Op kulturele vlak is daar ‘n gemengde Junior –en Senior koor. ‘n Nuusblad word ook kwartaaliks op skool gedruk. Die skool word op ‘n Christelike basis bedryf en speel ‘n belangrike rol in die geestelike en morele opvoeding van die leerders.
Projekte:
Een van die skool se langtermynprojekte is die totstandkoming van ‘n biblioteek, en in die verband is daar reeds ver gevorder, sover dit boeke betref. Die biblioteek sou teen middle 2009 ten volle in gebruik wees, maar moes ruimte maak vir ‘n Graad 2 klas omdat die leerders in twee klasse verdeel moes word.
Prestasies:
Joostenberg is ook bekend vir sy prestasies op sportgebied, veral rugby en landlope. Tussen 1994 en 2004 het talle leerders WP-kleure in die sportsoorte verwerf. Brandon Williams het in 2008 die WP streekspan se landlopers in Bloemfontein verteenwoordig.
Op die rugbyfront het Colin Adams WP-kleure verwerf toe hy in die 0-13 rugbyspan van WP se Cravenweek span van 2003 opgeneem is. Colin het sy rugbytrui aan die skool geskenk om as inspirasie vir ander leerders te dien.
Leerders word ook aangemoedig om aan kompetisies deel te neem en Lizaan Jaftha het in 2006 die Klein Joostenberg Kuns toekenning ontvang vir haar kunswerk oor natuurbewaring.

